Friday, June 15, 2007

Boemerang

Kunstig

wetenskaplik

uit hout gesny –

as ek jou gooi

kom jy terug na my;

ek werp jou op die water

met hoop en geloof

en soos plegtig in jou bou beloof

is jy terug in my hand:

met kleur en belofte gevul

die sirkel voltooi –

jy’t my nie gekul.

- Franci JvV, in Darwin, Australië: 1997 -

Herinneringsvlug

Ek kom weer terug

op herinnering se rug –

vir ‘n voëlvlug

deur my vreemd-bekende boorlingland

om te kyk, te deel, te neem, te pluk

van al die na-aan-my-wese-mense en –dinge

wat aan my hart se wande ruk.

My sakke sal ek hiervan boordensvol laai.

Ek het gekom, gegaan, geoes, gesaai.

- Franci JvV, vir my wêreldburgervriendin geskryf, laat 90’s -

Die sandstrooiertjie


In ‘n land van sand

ver, ver van hier

werskaf en sing ‘n mannetjie van plesier:

Ek is die sandstrooiertjie

kinders se sorge-weggooiertjie;

hul na-droomland-uitnooiertjie!

Vanaand gaan die sandstrooiertjie

jou in daardie spesiale

tussen-dag-en-nag oorgangsuur

met ‘n geskenkpak própvol mooiste, mooiste verhale

na droomland stuur…

In ‘n land van sand

ver, ver van hier

skud en sif die mannetjie

handevol sand

heen en weer

heen en weer

deur ‘n towerkannetjie

tot fyn, blinksuiwer goudstof

en begin om hom op te tof,

want vanaand reis hy met die hemelpad

verby die maan

wat tussen skitterblink sterre staan -

tot by jou kamervenster, my kind

waaraan hy liggies tik-tik soos wind

sodat jy hom kan binnenooi

om soete slaapstof

op jou kussing te strooi.

Terwyl hy ook sterretjies aan jou kamerplafon hang

vir die wegstuur van donker se bang

streel hy saggies oor jou wang

en betower jou met sy sang:

Ek is die sandstrooiertjie

jou sorge-weggooiertjie;

jou na-droomland-uitnooiertjie!

Jou ogies is nou saligswaar…

Jy’s amper, ámper daar,

fluister jou sorge-weggooiertjie

en strooi ‘n laaste korreltjie sand

uit sy hand;

stoot jou saggies oor wakkerwees se rand

tot ver, vér in droomland

doer ánderkant die land van sand.

- Franci JvV, Junie 2006 -

Swanger

My buik

staan punt-in-die-wind;

ek dra ons ongebore,

wonderbaarlik mens-wordende kind

met naelstring aan die vlees

van ons liefde gebind.

- Franci JvV, in afwagting in 2000 geskryf -

Soms, my lief

Met jou stap ek in my hart

op soveel paaie

waarheen die lewe my vat:

soms is jy daar om my hand te hou

soms is jy ‘n gedagte wat alles omvou

soms verlang ek vaag na jou

soms fel en intensief

maar – áltyd, áltyd, my lief

is ek van jou bewus

weet ek dat alles nog dieselfde

en tog so anders is…

- Franci JvV, iewers, êrens vir my lief geskryf -

Waar daar lig is, is daar lewe...

Soos ‘n kers se ligkrans

verbreek jy ‘n nagkamer

se donker skans.

Versigtig begin jy flikker -

tot ‘n sagte, warme glans

wat al hoe sterker,

later seker en juigend

deur die skadu’s dring,

jubelend in elke hoek sing

en triomfantelik teen die dak

bokant alles dans.

- Franci JvV, Nuwejaar 2004 -

Voorbereiding


Herfsgety, herfsgety

neem my hart

kleur dit met jou warmbruin,

geel, goud en koper mengelmoes;

steek dit aan die brand

met die vuur van jou wese.

Laat dit gloei, knetter en smeul;

maak dit warm, sterk,

betowerend mooi –

ontvanklik vir, maar weerbaar teen

die vaal en winternaaktheid wat kom…

- Franci JvV -