Friday, June 15, 2007

Die sandstrooiertjie


In ‘n land van sand

ver, ver van hier

werskaf en sing ‘n mannetjie van plesier:

Ek is die sandstrooiertjie

kinders se sorge-weggooiertjie;

hul na-droomland-uitnooiertjie!

Vanaand gaan die sandstrooiertjie

jou in daardie spesiale

tussen-dag-en-nag oorgangsuur

met ‘n geskenkpak própvol mooiste, mooiste verhale

na droomland stuur…

In ‘n land van sand

ver, ver van hier

skud en sif die mannetjie

handevol sand

heen en weer

heen en weer

deur ‘n towerkannetjie

tot fyn, blinksuiwer goudstof

en begin om hom op te tof,

want vanaand reis hy met die hemelpad

verby die maan

wat tussen skitterblink sterre staan -

tot by jou kamervenster, my kind

waaraan hy liggies tik-tik soos wind

sodat jy hom kan binnenooi

om soete slaapstof

op jou kussing te strooi.

Terwyl hy ook sterretjies aan jou kamerplafon hang

vir die wegstuur van donker se bang

streel hy saggies oor jou wang

en betower jou met sy sang:

Ek is die sandstrooiertjie

jou sorge-weggooiertjie;

jou na-droomland-uitnooiertjie!

Jou ogies is nou saligswaar…

Jy’s amper, ámper daar,

fluister jou sorge-weggooiertjie

en strooi ‘n laaste korreltjie sand

uit sy hand;

stoot jou saggies oor wakkerwees se rand

tot ver, vér in droomland

doer ánderkant die land van sand.

- Franci JvV, Junie 2006 -

No comments: